ONS JEUG – ONS TOEKOMS
Liewe ELEOS-vriend/vriendin Ons is dankbaar vir die Jeug-Ontwikkelingsfonds wat in 2019 op die been gebring is om die kinders in die Weste te bemagtig. Dankie vir die geleenthede wat geskep kon word om kinders te ontwikkel en te ondersteun. Die fonds is tans uitgeput en dit is daarom onmoontlik om al die aktiwiteite vir die res van die jaar te kan betaal. Ons wil saam met hierdie terugvoer ook die vrymoedigheid neem om te vra of jy jou hart sal oopmaak om die Jeug-Ontwikkelingsfonds aan te vul om ons drome vir die naskole vir 2024 te laat realiseer. Sien asseblief hieronder terugvoering oor die verskillende groepe wat baat gevind het by die fonds in 2023, asook die begroting vir 2024. |
TIENER NASKOOL:
TIENER NASKOOL: Ons kon twee tieners help met oogkundige besoeke en gevolglik het ons die koste van die brille gedra. Die tieners is na die kultuur historiese museum geneem om hulle algemene kennis te verbreed en hulle het ook ‘n pretdag gehad waar hulle speletjies gespeel en wafels gemaak het waar verhoudings gebou is. Die kinders het elke kwartaal vir hulself doelwitte gestel en hulle is aan die einde van die kwartaal beloon met kolwyntjies en koek indien hulle hierdie doelwitte bereik het (een kolwyntjie vir elke vak waarin hulle ‘n doelwit bereik het en ‘n koek as hulle daarin kon slaag om ‘n hoër gemiddeld te bereik). Die glimlaggies het van oor tot oor gestrek met die uitdeel van hierdie bederfies. Die lekkerste was om te hoor hoe die kinders mekaar aanmoedig en gelukwens met elke doelwit wat bereik is. Ons kon ook vier matrikulante help om te skitter op hulle matriekafskeid. Verlede jaar was daar 6 matrikulante wat by ons naskool ingeskakel het. Die matrikulante se uitslae was goed genoeg om aansoek te doen vir diplomas en een kon aansoek doen vir ‘n hoër sertifikaat. Die jongmense se toekomsplanne lyk belowend: Een studeer verpleegkunde, drie beplan om elektrisiëns te word en een het aansoek gedoen by Wonderboom Lughawe en gaan begin met haar opleiding om ‘n vlieënier te word. Die laaste matrikulant is nog nie heeltemal seker in watter rigting sy wil studeer nie. Sy kom egter nog na die kantoor en het ‘n afspraak met die maatskaplike werker sodat sy begelei kan word. Die maatskaplike werker sal haar dan ook help om aansoek te doen by die instansie van haar keuse. Ons het een dogter se registrasiegeld van R250 betaal. Die matrikulante het self verder aansoek gedoen vir befondsing van die kursusse wat hulle wil volg, met die hulp en ondersteuning van hulle projekleier, Marné. |
Laerskool Booysens Naskool en Generaal Nic Smit Naskool:
Ons kon vir elke Gr 7 kind ‘n tas en skryfbehoeftes gee om hulle voor te berei vir hulle hoërskoolloopbaan. Die kinders was opgewonde om melkskommels (met al die ekstras!) by Mustang Sally’s te kon gaan geniet. Dit was ‘n eerste vir almal. Ouboet Bladon het die helfte van sy melkskommel huis toe geneem om met sy kleinboet te deel. Wat ‘n voorreg om kinders bloot te stel aan nuwe dinge! As deel van die vakansiepret in Oktober 2023, het die kinders ‘n Hip-Hop dansklas gekry – hierdie was ‘n hoogtepunt en ons wil graag hierdie jaar weer so geleentheid skep! |
Verskeie kreatiwiteitsgeleenthede is gehou gedurende die vakansies verlede jaar. Die aktiwiteite is gekoppel aan ‘n tema – met die verf byvoorbeeld is elke emosie aan ‘n kleur gekoppel en die kinders is aangemoedig om daarmee te speel, die verf te meng en dit deurmekaar te maak – dit is gebruik om te illustreer dat ons emosies soms baie deurmekaar raak en soos ‘n mengelmoes kan voel en lyk. Daarna is daar oor die verskillende emosies gesels, hoe dit voel in jou lyfie en hart, en ook hoe ons dit kan hanteer op ‘n gesonde manier. By ‘n volgende geleentheid het die kinders kerskaartjies gemaak vir hulle familielede en sommer net lekker ingekleur. |
Die kinders het ook ‘n draai gaan maak by Wollies en is aangemoedig om die diere te streel en te versorg. Die klem het hier geval op die hantering van diere en dat ons sag met hulle moet werk en hulle moet versorg en oppas.
Die kinders van beide naskole skakel ook in vir arbeidsterapie op ‘n weeklikse basis.
2024 is volop nuwe uitdagings!
Ons wil graag voortbou op boegenoemde geleenthede en beplan die volgende:
Tienernaskool: Tutorklasse vir die kinders wat sukkel met skoolwerk (ons benodig R1500 per maand hiervoor vir 10 maande = R15 000). Ons het ‘n oulike dame geidentifiseer wat met al die vakke kan help op ‘n persoonlike een-tot-een basis (‘n student wat meeste middae beskikbaar is en in die area bly). Toerusting vir spesifieke vakke soos tekenborde vir IGO (R1000) Koeke en kolwyntjies vir die beloningseremonie (R1400 per kwartaal = R4 800) Bykomstighede en bywoningsgeld vir matriekafskeid (R4000) Mediese behoeftes (oogtoetse en brille, maar ook vir afsprake by ‘n dokter/spesialis indien nodig (R5000) Registrasie gelde by tersiêre instellings – 5 leerlinge @ R500 elk (R2500). Booysens- en Nic Smit Naskole: Ons wil graag ‘n doelwitstelling en beloningsisteem reeds in die laerskole vestig om die kinders aan te moedig om beter te presteer. Ons wil die kinders wat hulle prestasies bereik met ‘n sjokolade/ lekker bederf. Die begroting hiervoor beloop R2400 per kwartaal vir beide naskole se kinders (R9 600) Ons wil weer die Gr 7- leerlinge bemagtig vir die hoërskool deur hulle van die basiese skryfbehoeftes en ‘n nuwe tas te voorsien. Daar is sewe Gr 7- leerlinge en die koste beloop sowat R1000 per kind (R7000) Ons wil graag vir beide naskole een maal per kwartaal, as deel van die vaardigheidsontwikkeling, Hip- Hop dans aanbied – dit kos R150 per naskool per kwartaal (R1 200) – die fooi dek basies net die dansinstruktrise se uitgawes en die kinders sal dit regtig geniet. Sy doen ook moeite om met hulle te gesels oor hulle lyfies – hoe pas ek my lyfie op, hoekom is beweging en oefening belangrik en hoe verskil ons van mekaar in ons dansstyl en hoekom dit belangrik is om mekaar te respekteer in ons verskille. Die kinders in ons naskole sukkel soms skolasties en ons het dan nodig om hulle by ‘n opvoedkundige sielkundige te laat evalueer om ‘n korrekte skoolplasing of behandelingsplan voor te stel. Ons wil graag begroot vir ten minste 3 kinders @ R2000 elk (R6000). Daar is ook ‘n behoefte om kinders bo die ouderdom van 12 vir oogtoetse te neem (onder 12 is gratis by Specsavers). Hiervoor begroot ons R1600. Buitespeelgoed vir die kinders is baie belangrik en daarom wil ons dit aanskaf sodat kinders die geleentheid kry om saam buite te speel. Hier is die begroting R1500 per naskool (R3000). Ons kinders word dikwels groot in klein ruimtes sonder speelplek en dit het ‘n invloed op hulle groot motoriese vaardighede. Die arbeidsterapie sal voortgaan in die nuwe jaar (R5000 per maand) en sy sal ons begelei in ons aankope tot voordeel van ons kinders. |
Die begroting vir 2024 kan as volg opgesom word:
Beskrywing | Bedrag |
Tieners: | |
Tutorklasse | R10 000 |
IGO Bord | R 1 000 |
Beloningsisteem | R 4 800 |
Matriekafskeidkostes | R 4 000 |
Mediese hulp | R 5 000 |
Tertiere registrasies | R 2 500 |
Laerskole: | |
Beloningsisteem | R 9 000 |
Graad 7’s regmaak vir hoerskool | R 7 000 |
Hip-hop klasse | R 1 200 |
Assesserings | R 6 000 |
Oogtoetse | R 1 600 |
Speelgoed | R 3 000 |
Arbeidsterapie | R 5 000 |
Totaal | R60 100 |
Dit is ons hart om elkeen van ons kinders van geleenthede te voorsien om hulle volle potensiaal te bereik.
Dankie byvoorbaat vir die rol wat JY speel in die uitvoering van ons doelwitte vir hierdie kinders! Ons waardeer JOU!
Groete
ELEOS Terapeutiese span